('Jaci van Jaarsveld')

Anel Alexander is seker die bekendste vir haar rolle in twee van Suid-Afrika se gewildste sepies. In 7de Laan het sy die kykers se harte as die skaam Liesl verower, en daarna het sy haar veelsydigheid gewys as die dwelmverslaafde Nina in MNet se Binnelanders.

Anel glo daaraan om nooit die mag van harde werk te onderskat nie en het reeds haar professionele loopbaan begin terwyl sy drama aan die Universiteit van Pretoria studeer het. In die tyd het sy in die Staatsteater in Pretoria in die musiekblyspele The Witness en Jesu – An African Portrait opgetree en het kragte saamgesnoer met die teaterlegende, Nicholas Ellenbogen, in die KKNK stuk, The Calitzdorp Passion. In 2002 slaag sy haar graad met lof en word dadelik deur een van Suid-Afrika se top agente in die vermaaklikheidsbedryf opgeraap.

Kort daarna kry sy die geleentheid om haar musikale en dans talente in die kabaret Blondes ten toon te stel, voordat sy deur die 7de Laan-span genader is om Liesl, die “lelike eendjie wat in 'n swaan verander”, te speel. Sedertdien was sy voor die kameras in bekende televisiereekse soos The Mating Game, Zero Tolerance 3, Amalia 2, City Ses’la, Hillside en Rhythm City asook die gewilde KykNET reeks, Getroud met Rugby.

Tussen haar televisiewerk deur het Anel se liefde vir die teater gesorg dat sy by heelwat kunstefeesproduksies betrokke was, waarvan die hoogtepunt Bosryk was toe sy die verhoog met die Afrikaanse teaterikoon, Gys de Villiers, gedeel het. Sy was ook die medevervaardiger van, en het gespeel in, Discreet, Upmarket, 24/7 by die Grahamstadse Nasionale Kunstefees (2005 en 2006) en die KKNK (2006). Anel het ook aan die einde van 2007 die rol van Steve Hofmeyr se vrou in die Afrikaanse musiekblyspel Dis hoe dit was – Die Steve Hofmeyr Storie vertolk.

Sy het onlangs haar vlerke gesprei en aanbiedingswerk begin doen en was onder andere die ankervrou vir die tydskrifprogram, 3:16 en het ook die energieke kuns en kultuur program, Artcha aangebied, beide vir SABC 2. Sy het ook al as gasaanbieder vir die gewilde Pasella op SABC 2 opgetree.

Anel se grootste passie is egter rolprentwerk en sy en haar man, James Alexander, en hulle maatskappy, Scramble Productions, het die plaaslike onafhanklike rolprent, Discreet, vervaardig. Sy het nie net fondse bekom en die rolprent vervaardig en bemark nie, maar ook die hoofrol daarin gespeel. Discreet is in November 2008 plaaslik vrygestel en is deur die resensente as 'n triomf vir Suid-Afrikaanse rolprente beskryf. Die rolprent is ook in 2011 internasionaal vrygestel deur Green Apple Entertainment.

Hoe was dit om saam met Nico te werk?
Ek onthou jare gelede toe ek en Nico saam by 7de Laan gewerk het, het ons 'n gesprek oor die maak van films gehad. Hy het baie spesifiek genoem dat hy graag komedie wil doen en ek dink rerig hy gaan gehore se sokkies afblaas. Hulle gaan ‘n kant van Nico Panagio sien wat hul nie geweet het bestaan nie! Nico is actually rerig snaaks, en hy is so toegewyd, dis ‘n absolute plesier om saam met hom te werk.

Wat was ’n hoogtepunt tydens verfilming?
Wanneer 'n mens die vervaardiger van 'n rolprent is, is elke dag wat sonder voorval verloop 'n hoogtepunt! Ek was net verskriklik dankbaar dat alles reg uitgewerk het: Vrede en Lust, ons ongelooflike Joburg-locations, die helikopter, die vark, die Maserati … ag, alles was 'n hoogtepunt!

Wat was die snaakste ding wat op stel gebeur het?
Ek het lanklaas in my lewe so baie gelag. As volwassenes lag ons mos nie meer uit ons mae uit nie. Ek het elke dag op stel gelag dat die trane loop! Die arme grimeerkunstenaar moes kort-kort my grimering regmaak omdat ek dit afgehuil het - van die lag, natuurlik!