('Denise Marais')

Corine du Toit is in Bloemfontein gebore en het haar skoolloopbaan daar voltooi voordat sy na Johannesburg verhuis het om as model te werk. Sy het vir 13 jaar in Suid-Afrika en Europa as model gewerk voordat sy haar debuut as aktrise gemaak het.

Sy het meer as 50 internasionale televisie-advertensies agter haar naam en het ook vir verskeie internasionale katalogusse gewerk, advertensieveldtogte wêreldwyd gedoen vir groot handelsmerke soos Lamborghini, Body Shop, Toni & Guy en Eriksson, en as model in Europese veldtogte opgetree vir kliënte soos T-Mobile, Toyota en Speedo. Van haar redaksionele werk sluit in die Italiaanse Vogue, die Griekse, Tsjeggiese en Suid-Afrikaanse Elle, Cosmopolitan, Marie Claire, GQ en Men's Health.

Corine het haar loopbaan as aktrise in 2003 van stapel gestuur toe sy die vroulike hoofrol in 'n kortfilm deur Phillip C. Claasen vertolk het. Kort daarna is sy 'n hoofrol in Franz Marx se Egoli aangebied as die feeks, Jane Edwards. Sy het tot en met 2008 voltyds by Egoli gewerk, waarna sy Inge Bekker, die rugbykaptein se vrou in die gewilde Kyknet-dramareeks, Getroud met Rugby, gespeel het.

In 2009 het Corine ook aan twee rolprente gewerk. Sy speel 'n eksentrieke, aktrise in die internasionale rolprent, Florida Road en die vroulike hoofrol as die depressiewe Karin, in die Suid-Afrikaanse riller Night Drive. Hierdie prente is albei in 2011 vrygestel. In 2010 het Corine aan die volgende seisoen van Getroud met Rugby gewerk, asook die rolprentweergawe van die reeks wat vroeg in 2011 vrygestel is.

Corine het onlangs die verfilming van Semi-Soet, 'n Afrikaanse Romantiese Komedie wat in 2012 vrygestel word, afgehandel. Sy is ook te siene as gaskunstenaar aan die einde van 2011 in SABC se Erfsondes.

Sy het al verskeie toneel- en modelwerkswinkels in Suid-Afrika aangebied en ook haar hand gewaag aan motiveringspraatjies, optredes as seremoniemeester en beoordeling.

Corine is 'n ou bekende in liefdadigheidskringe en was al betrokke by funksies ten bate van die DBV, Puppy Haven, Celebrities Against Abuse, Die Tygerberg-kinderhospitaal, CANSA, Voed die Nasie, Cradle of Hope, die Worcester-Wedloop vir Blindes en NID-kollege.

Sy is in 2007 genomineer vir 'n Chrystal-toekenning deur People Magazine en is as die Bes Geklede vrou vir 2009 deur die bekende mode-ontwerper, Simon Rademan, aangewys. Sy het ook in 2010 'n ATKV-medianominasie as Beste Aktrise in 'n TV-drama ontvang.

Corine geniet dit om in haar aftydjies met haar twee honde te speel of om perd te ry, te swem, Bikram-joga te doen, tuin te maak, te skubaduik en te skryf.

Hoe was dit om saam met jou mede-akteurs te werk?
Die mans het hulle soos stout seuntjies gedra. Hulle het gesorg vir baie giggles en vermaak op stel, sonder om die spanwerk te benadeel. Die meisies was almal baie professioneel maar ook warm mense met hope talent. Dit was great om die 'komiese kant' van die klomp se persoonlikhede te sien. 

Wat was 'n hoogtepunt tydens die verfilming?
Die Vrede en Lust wynplaas is ongelooflik mooi! Dit is altyd lekker om buite te skiet, veral as dit so na aan die hemel is!

Hoekom moet mense Semi-Soet gaan kyk?
Die akteurs en aktrises is vrek snaaks en mense gaan dit geniet om hulle in komiese rolle te sien omdat die meeste van hulle gewoonlik in dramas speel. En 'n Afrikaanse Romantiese Komedie is nie iets wat gereeld in Suid-Afrika te siene is nie. Dit is ‘n great movie! Mense van alle ouderdomme sal dit geniet!