
Diaan is veral bekend en geliefd vir haar rol as Paula van der Lecq op SABC 2 se treffer sepie, 7de Laan. Sy het haar loopbaan as aktrise begin in televisieproduksies soos Egoli, Speelding en Backstage. Sy het ook onder andere in rolprente soos Stander gespeel en doen baanbrekerswerk met toneelopvoerings soos Closer, Fourplay en die klassieke werk, Dangerous Liaisons.
Sy is mede-eienaar van en bestuur die maatskappy, Fusion Productions, wat daarin spesialiseer om verhoogproduksies, korporatiewe teater en DVD's vir bedryfskommunikasie te skryf, te regisseer en op die planke te bring. Fusion het reeds projekte vir groot maatskappye soos Sasol, SABC, Standard Bank, Bosch SA, Anglo American, SAID en MTN vervaardig.
As gevolg van die suksesvolle samewerking tussen Fusion en Jody Abrahams se maatskappy, Jester Productions, en die voortdurende veranderinge in behoeftes van die bedryf, is Diaan sedert 2006 mede-eienaar van Jester Productions en werk sy en Jody eksklusief aan heelwat van Fusion se kreatiewe projekte.
Jester Productions was al vir hoogs aangeskrewe produksies verantwoordelik, soos Is Ja! (Fleur du Cap- en Naledi-nominasies), Under the Fig Tree, Pleiboyz en Second Time Around (Fleur du Cap-nominasie). Terwyl sy aan 7de Laan werk, tree Diaan ook gereeld in verhoogproduksies op soos Die Vals Snor, Dirk en Lindie, Under the Fig Tree, Vrydag is Skeidag en meer onlangs Roemers & Bloemers 2 saam met Karin Zoid, Shaleen Surti-Richards en Marion Holm. Diaan spog met ‘n hele rits toekennings onder andere 'n ATKV-Veertjie in 2009 as Gunsteling Aktrise en sy is in 2010 deur You Spectacular aangewys as Beste Aktrise. Sy is ook genomineer vir Best Actress vir die People's Choice Awards in 2005, You Spectacular Best Actress in 2007 en 'n SAFTA-toekenning as beste aktrise in 2009.

Hoekom moet mense Semi-Soet gaan kyk?
Daar is nog nie vantevore so 'n Afrikaanse rolprent gemaak nie. Ek dink die Suid Afrikaanse gehore gaan rêrig daarvan hou.
Wat het jy die meeste van jou karakter geniet?
Ek is mal oor karakters wat heeltemal van die norm afwyk. Ek vind aanklank by sulke karakters en kan lekker met hulle speel, want hulle is uniek en beslis nie vervelig nie. Chadrie was 'n lekker karakter om te vertolk - ek het baie pret gehad. Sy is nie die skerpste potlood in die laai nie, maar haar energie is aansteeklik.
Hoe was dit om aan Semi-Soet te werk?
Stel jou voor dat jy saam met van jou beste pêlle werk en jou elke dag flou lag. Ons het hard gewerk, maar net so hard gelag.
