('J.P. Basson')

Nico Panagio het aan Pretoria Boys High School gematrikuleer en daarna sy nasionale diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot gedoen. Nadat hy kursusse in sakebestuur voltooi het, het hy drama by die Method Actors Training Centre in Pretoria gestudeer.

Kort daarna begin hy rolle as akteur los slaan en speel hy in verskillende televisieproduksies wat wissel van sepies soos 7de Laan, Zone 14 en die dramareeks Erfsondes tot die MNet-minireeks, Ella Blue en kykNET se Vallei van die Sluiers. Hy verskyn ook op die groot skerm in Franz Marx se rolprent, Susanna van Biljon, wat in September 2010 vrygestel is, waarin hy 'n hoofrol as die skurk vertolk. In sy jongste onderneming speel hy saam met Anel Alexander die hoofrol in die Afrikaanse Romantiese Komedie, Semi-Soet, wat deur Scramble Productions vervaardig is en in Februarie 2012 vrygestel sal word.

Hy het 'n groot passie vir die teater en het al verskeie dramatiese en komiese verhoogrolle vertolk - van die Pretoria Staatsteater tot in Artscape in Kaapstad, asook by heelwat kunstefeeste.

In 2007 werk hy as vryskutaanbieder by SABC 3 se tydskrifprogram, Top Billing. Buiten die interessante inhoud en eksotiese reisgeleenthede wat dit ingehou het, het hierdie program hom die geleentheid gebied om sy liefde vir die natuur uit te leef en pak hy verskeie avonture aan soos om uit vliegtuie te spring, rotse in Malta uit te klim en te swem in seewater wat krioel van die haaie. Hy kry ook by Top Billing 'n kans om van die insetsels te vervaardig en te regisseer én om sy eie teks te skryf. Nico het met 'n verskeidenheid internasionale sterre onderhoude gevoer soos Kylie Minogue, Charlize Theron, Kelly Clarkson, Paris Hilton en Bryan Adams.

In November 2009 word Nico gevra om as gasheer van die gewilde MNet-werklikheidsreeks, Survivor (Suid-Afrika), op te tree. Hy was die gasheer tydens die laaste twee seisoene wat op buitestelle in Mosambiek en die Maldive-eilande verfilm is. In 2010 en 2011 word hy vir beide reekse as Beste Aanbieder genomineer deur YOU Spectacular.

Hy is 'n ervare seremoniemeester wat ook as gasheer en gasspreker by verskeie gebeurtenisse optree wat wissel van korporatiewe bekendstellings tot prysuitdelings, modevertonings, gholfdae, privaat partytjies en regsstreekse televisiegebeurtenisse soos die Mejuffrou SA Skouspel. Buiten sy gereelde optredes as seremoniemeester het hy ook as verteller met 'n agtergrondorkes by die Internasionale Kamermusiekfees in Stellenbosch, onder die leiding van die bekende dirigent, Victor Yampolsky, opgetree.

Nico is al genomineer vir vele toekennings onder andere die Peoples’ Choice Award vir Beste Akteur, Bes Geklede Aanbieder, die Sexyste Man, die kinders se Gunsteling Sepiester asook een van GQ se Bes Geklede Mans. Nico se pa is Grieks en sy ma Afrikaans en sy volle naam is eintlik Nicolaos Panagiotopoulos. Alhoewel hy baie trots op sy herkoms is, het hy vir praktiese doeleindes besluit om die naam Nico Panagio as verhoognaam te gebruik.

Hoe het jy by Semi-Soet betrokke geraak?
Anel en James het my genader en gevra of ek bereid sou wees om die hoofrol te speel in 'n Romantiese Komedie vir die groot skerm wat in die Kaapse wynlande afspeel en sou vereis dat ek in helikopters rondvlieg en met Maserati's deur Jozi se strate jaag. Ek het soos 'n meisie gegil... en toe baie kalm 'ja' gesê. Dit was twee jaar gelede en ek het al begin wonder of hulle my been getrek het, maar toe gebeur die dinge wel.

Wat het jy die meeste van jou karakter geniet?
Hy begin as hierdie leë, eensame mens wat alles maar ook niks het nie en 'n mens kry die gevoel dat hy moed opgegee het om geluk of liefde te vind. Dan ontmoet hy hierdie unlikely meisie wat hom dinge laat doen wat hy nie eers gedink het hy sou geniet nie. Dit was lekker om die ernstige, besigheidsgeoriënteerde 'Jackal' te wees wat elke nou en dan sy stoute, spontane, amper kinderlike kant (sy eintlike self) te voorskyn laat kom.

Hoe was dit om aan Semi-Soet te werk?
Die ure was ongelooflik lank, die kos uitsonderlik lekker, die crew ongetwyfeld professioneel en die spelers, ah, die spelers was ongelooflik spesiaal.