('Markus Rossouw')

Paul du Toit het in 1996 sy honneursgraad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en ook in 1995 die toekenning as Beste Akteur ontvang. In daardie tyd werk hy aan Boy meets Boy en A Winter's Tale vir CAPAB en in 1996 ontvang hy 'n Fleur du Cap-nominasie vir die belowendste student.

In 2001 het hy die FNB Vita vir die Beste Ondersteunende Akteur ontvang vir sy vertolking van Cassio in Othello en die rol van Tian in die rolprentaanpassing van die drama volg hierna. Gehore in Kaapstad het hom ook gesien as Edgar in King Lear en Orlando in As you like it vir Artscape.

Paul het meer onlangs uitstekende resensies ontvang vir Dood van 'n Verkoopsman, waarvoor hy deur Kyknet Fiesta as Beste Ondersteunende Akteur genomineer is. Hy het ook Kobus in Liefling - die Movie, Suid-Afrika se eerste Afrikaanse musiekfliek in 30 jaar, gespeel en is bekend aan televisiekykers as Malan Koster in die MNet sepie, Binnelanders.

Paul is op die oomblik die medevervaardiger en mede-aanbieder van Rof of Spog (Rough or Smooth is die Engelse weergawe), 'n reisreeks wat die avontuurlike en gesofistikeerde kant van sommige van Suidelike Afrika se mees eklektiese bestemmings van naderby bekyk.

Ander hoogtepunte in die teater sluit in Jack in Into the Woods, die titelrol in The Elephant Man, Stephen in Old Wicked Songs (waarvoor hy 'n FNB Vita-nominasie vir die Beste Akteur ontvang het), Guy in Strangers on the Train, Tom in Skin Tight, Mathew in Auditioning Angels (wêreldpremière van Pieter Dirk Uys se toneelstuk vir Pieter Toerien) en sy rol as Frank 'n Firter in The Rocky Horror Show, waarvoor hy 'n Naledi-nominasie vir die Beste Vertolking in 'n Musiekblyspel ontvang het.

As die kat in Laurence Olivier se bekroonde musiekblyspel Honk ontvang hy nog 'n Vita-nominasie in die kategorie Beste Vertolking deur 'n Akteur in 'n Musiekblyspel. Hierna speel hy die bleeksiel Wally in Glory Days, wat landwyd in die Barnyard-teaters gespeel het, en tree hy ook in Rock me Amadeus op. Hy is ook die medeskrywer van laasgenoemde en was vir die regie van die optredes in die Barnyard-teater in Durban verantwoordelik.

Paul was een van die vervaardigers van vier suksesvolle verwerkings van Offbeat Broadway, wat van Londen tot Harare opgevoer is en orals uitstekende resensies en 'n oorvloed nominasies as die Beste Musiekblyspel ontvang het. Paul ontvang ook 'n nominasie vir Beste Vertolking in 'n Musiekblyspel.

Televisiegehore het Paul as Dean, die sluwe persoonlike afrigter van e-TV se Back Stage leer ken, en as Madam se redelik naïewe seun Eric in die internasionaal bekroonde Madam and Eve. Hy het ook aan boord van die MS Royal Star-passasierskip, wat tussen die Indiese Oseaan-eilande rondvaar, as 'n kabaretsanger opgetree, maar dit is 'n heel ander storie … wat op die skip gebeur het, bly blykbaar op die skip.

Paul het operategniek aan die Stellenbosch Universiteit se Konservatorium studeer en is 'n bedrewe rock- en musiekblyspelsanger. Hy het 'n bruin belt in Judo, speel die kitaar, ry graag perd en is gek oor watersport en verslaaf aan branderplankry en duik. Hy het ook reeds die Dusi-, Drakensberg- en Visrivier-ultrakanomarathons voltooi.

Hoe het jy by Semi-Soet betrokke geraak?
James Alexander was nie beskikbaar om my rol te speel nie en ek is anyway goedkoper.

Wat het jy die meeste van jou karakter geniet?
My amazing hare (Paul se hare is elke dag reguit gemaak met ‘n straightner).

Hoe was dit om saam met Diaan te werk?
Diaan is histeries snaaks en nog flippen mooi ook. Dis 'n uiters irriterende kombinasie.