
Sandra het in 1995 haar BA Drama-graad (Cum Laude) aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Sy maak haar debuut vroeg in 1996 in die klug Hoe Later Hoe Kwater vir TRUK. Hierna het sy haar brood en botter verdien deur heelwat teaterproduksies, stemwerk en TV-advertensies te doen. In 2004 maak sy haar rolprentdebuut in Bobby Heaney se MNet-rolprent, Swansong for Charlie.
Sy het op televisie veral bekendheid verwerf as 'Debbie Meyer' in 7de Laan, 'Karlize Schoeman' in Isidingo, 'Hannelie de Kock' in Zero Tolerance III en meer onlangs as 'Anke Swart' in Deon Opperman se reeks Getroud met Rugby.
Sy was ook een van die skrywers van Getroud met Rugby, Fishy Fêshuns en Thysnywerheid.
Sandra Vaughn se lewensleuse is baie dieselfde as Kathy Lette s'n: “If all the world is a stage, then where the hell is my dressingroom?”

Wat was die snaakste ding wat op stel gebeur het?
Ek dink nie daar is genoeg plek om alles te noem nie! Daar was onder andere die rapsong wat Louw en Nico spontaan begin sing het in een van die kartonele (met arme Josh in die kattebak besig om die VT-monitor dop te hou). Daar was vreeslik baie inside jokes. En as ek en Anel mekaar eers aangesteek het met 'n gelaggery, was dit moeilik om op te hou! Die toneel waar 'n by Chadrie op haar lip 'byt'…
Wat was 'n hoogtepunt tydens die verfilming?
Die vark, die helikopter, die druiwetrappery… ag omtrent elke toneel.
Wat het jy die meeste van jou karakter geniet?
Haar absolute eerlikheid - dit is ook waar die meeste komiese oomblikke vandaan kom.
